Spore van Genade
Kopieregte: Hope Anointed Ministries: Alta van Zyl (Hope)
Self-Publiseerder: Hope Anointed Ministries
Sagteband ISBN: 978-0-6399309-8-5
Kindle: ꓽ 978-0-6399601-8-0
PDF ISBNꓽ 978-0-6399601-7-3
Gepubliseer 11 September 2019
Projekkoördineerder: Lynelle Clark
Fotograaf: Theuns de Bruin
Ontwerp van Boekomslag: Odette Clark
Illustrasies: Elmari van Zyl (LiefieKinD)
Illustrasie: Antonette Bisset
Proefleser: Driekie Grobler
Proefleser: Anzé Bezuidenhout
‘n Liefdadigheidsprojek.
Oorsig
Wat is asemloos? Asemloos was ek eendag op 'n lang dag. 'n
Dag sonder dat ek die son sien opkom het, 'n dag sonder hoop, sonder tyd,
sonder 'n geluid. Mense sê hulle tyd is duur. Wat is my tyd wat ek op die plek
moes verduur?
Die son kom op en sak maar ek weet nie eers of dit dag of
nag is nie. Die verskil tussen water en asyn, sweet en roosmaryn ken ek nie
eers meer nie. Ek sit hier op die wal van die Vaalrivier. Kaalvoet man sonder 'n van of naam... So weet
dié mens min!
Ek, die man op die maan.
‘n Man met my eie taal. In ink geteken my verhaal. Die mense lag! Daar
staan die boemelaar ou maar ek stap, stap my voete rou. 'n Laaste dag dalk, ‘n
laaste nag. In my hart 'n blondekop dogter en 'n donkerkop vrou wat my nog laat
wag voor ek vertrek na die Hemelseprag!
Die lewe ken my stap, Vader het my pad vir my uitgekap.
Gedra was ek deur gebede! As die mens maar weet! Die verskil tussen water en
grond. Vis en vleis. Is soos ek, die gewonde boemelaar man. Ek op my “boks” en
jy op jou "king size" bed....
Wat is die verskil? Hoekom is jy skaam vir my?
45 Woordkunstenaars, 1 Bundel
Alta van Zyl is in Klerksdorp, Suid-Afrika gebore en het
grootgeword in Randlespark. Op die ouderdom van 16 het sy swanger geraak met
haar dogter. Later jare is Alta getroud en het ook ‘n stiefseun ryker geword.
Vandag is sy die trotse ouma van 3 kleinkinders. In 2016 is sy geskei.
Sy is ‘n regte “Warrior Women”. Om te bly hoop, al is daar
niks om voor te hoop nie, is haar leefwyse. Haar eerlikheid en sagtheid is
welbekend onder haar hartsmense. Sy is altyd gereed met ‘n vriendelike groet en
opbouende woord. Sy tree op soos sy is.
Na ‘n moeilike lewe het sy, op die ouderdom van 31, haar
lewensverhaal begin skryf. Ander boeke het ook daarna gevolg. Haar uithouvermoë
en aanhou probeer maak van haar ‘n ster wat helder skyn. Sy was betrokke in
haar bediening wat vir ‘n tyd lank toe was, maar nou weer oopgestel is. Of sy
‘n boek skryf of nie, sy is besig met die bediening en die bemarking van haar
boeke. Sy beskou elke mens se sukses, in wat hy/sy ookal bereik, as sukses. Die
een is nie méér belangrik as die ander nie. Wanneer jy doelwitte gestel het en
dit bereik het, was jy suksesvol.
Alta glo in groei, dat ‘n mens kennis moet opbou in verskeie
areas en dat ‘n mens nooit genoeg intellektueel en emosioneel kan groei nie. Sy
sal elke dag leersaam wil bly, want … “’n Mens is nooit te oud om te leer nie”.
Emosionele volwassenheid is iets wat plaasvind met verandering van gedagtes,
daarom is sy nie bang vir veranderings in haarself en haar denkwyses nie. Die
swaarkry (geestelik, emosioneel en liggaamlik) van die mens lê haar na aan die
hart en as sy ‘n verskil kan maak, is dit vir haar ‘n groot bonus, floreer sy
en is sy in haar element. Die boemelaar op die straat wat steeds lewe en
glimlag wanneer daar ‘n geldstukkie in sy hand gestop word, inspireer hierdie
vrou. Dit laat Alta besef hoeveel sy het om voor dankbaar te wees en dit
inspireer haar tot ‘n groter omgee-hart wat oorloop van liefde, sonder enige
veroordeling, want niemand van ons stap in die boemelaar se skoene nie.
Lees mens dié merkwaardige vrou se verhaal, verstaan jy ook
wat so inspirerend uit haar verhaal is, want sy is deur ongelooflike diep
waters en vuur, nie een maal nie, maar talle kere in haar lewe. Al wou sy het
sy nooit gaan lê nie, maar elke keer sterker anderkant uitgekom. Vandag is sy
die vuur! ‘n “Free spirit.” Wat jy sien is wat jy kry. Sy dra geen maskers nie.
Lank gelede reeds is dit verbrand en voorgee is nie in haar woordeskat en
leefwyse nie. Alta is dieselfde mens agter geslote en geopende deure!
Om jouself te vind en lief te hê is vir Alta van Zyl die
definisie van ware geluk. Die sleutel tot geluk vind ‘n mens net binne jouself.
Jy kan niemand gelukkig maak en ook self gelukkig wees, alvorens jy nie ware
geluk binne jouself ontdek, ken en leef nie.
Haar advies aan jong aspirerende skrywers is om jou boeke
self te probeer publiseer. Glo in jouself, al neem dit jou jare. Hou aan glo in
jou boek en skryfvermoëns. Die eerste paragraaf is al die sleutel na sukses.
Ten laaste glo sy: Dra jou kroon, want jy is vrou.
Hope Anointed Ministries
Wat doen ons?
1. Minderbevoorregtes.
2. Verslaafdes.
3. Die wat mishandel word.
4. Enige trauma.
5. Bejaardes.
6. Kinders.
Ons gee HOOP waar WANHOOP heers.
Die bediening is deur Alta van Zyl gestig en bestaan al meer
as tien jaar. Ons het al baie mense met erge verslawing gehelp, asook
behoeftige mense bygestaan. Die visie en missie van die bediening is om mense
weer hul trots terug te gee! Ons deel nie net met 'n vrye hand uit nie. NEE,
ons help mense hul waardigheid terugvind en weer in die samelewing, waaruit hul
onttrek het, in te pas. Wanneer hul genesing en vrymaking gevind het, kan hulle
ook 'n verskil gaan maak.
Daar is vir Alta niks mooier as die mense se dowwe oë weer
soos diamante skitter nie!
Wie befonds ons?
1. NIEMAND NIE!
Alle fondse kom uit my eie finansies of soms as iemand iets
skenk (sonder dat ons vra).
My finansies?
1. Kom alleenlik uit my boekverkope of as iemand in my lewe
saai en gee.
Nou, in ons dorpe is daar ongelooflik groot behoeftes,
soveel so dat mens nie by almal kan uitkom of kan help nie. Daarom doen sy 'n
beroep op elkeen om twee keer te kyk na die persoon op straat en te help as jy
kan, want 90% van hulle is daar a.g.v omstandighede buite hul beheer ...!
JY mag vir my sê ...
2. “Nee, dit is 'n keuse.” Ek sê: “Daaroor kan ons lank
debateer!”
Al haar boeke word gepubliseer deur Hope Anointed
Ministries, asook die boeke wat sy vir ander skrywers publiseer.
‘Spore van Genade’ is 'n digbundel juis vir hierdie doel.
Daarom het is alle skrywers uitgenooi om deel te neem aan die skryf van die
bundel, wat verkoop sal word vir fondse vir Hope Anointed Ministries en ander
bedienings, om mense in nood te kan help. Behoeftiges, verslaafdes, boemelaars,
bejaardes, kinders ens. en bewys van fondse gebruik, sal op aanvraag beskikbaar
wees.
Bejaardes, is dié moeders en vaders van ons volk op wie se spore
ons moet stap en aan hul ‘n gemaklike lewe gee binne ons vermoë, want hul
pensioen is BITTER MIN!
Ons kinders is die toekoms en as daar skade is in hul
kinderjare vind ons hul spore op die ashoop ... Kom ons bied aan ons kinders ‘n
veilige toekoms sodat hul kinders in vreugde kan volg op hulle spore - spore
van genade!
As Jou Siel Skoon en Gesond Is Dan Kan Jy Rus Vind In ABBA
en Word Jou Weg Voorspoedig …
Gedagtes van die skrywers
Isak de Lange
Aanvanklik het ek net gehoor van hierdie projek en ‘n
ondersteuningsrol vertolk. Met die lees en raad gee het ek van meet af my
vereenselwig met die deelnemers se ervarings. Toe ek dus die geleentheid gekry
het, het ek my hart oopgebreek en my seer gedeel. Dinge wat ek onder die sand
begrawe gehad het. My storie oor siekte tot die dood. My stryd van oorlewing,
mislukte verhoudings, selfdood gedagtes, ens.. Toe ‘n bydrae oor die seerkry en
vernedering van my kinderjare. Dinge wat daar was en wat my die mens gemaak het
wat ek vandag is. ‘n Sterk gelowiges wat uit genade gered is. “Spore van
Genade”, want sonder God se genade was ek verlore.
Lynelle Clark
Aanvanklike het ek net as ‘n deelnemende skrywer saam met
die projek begin. ‘n Paar dae later was ek pens en pooitjies deel van die
projek en moes ek skielik beheer van vyf en veertig mense se skrywes vat. My
rekenaar was gebombardeer met gedigte, kort verhale en prosa stukkies en hoendervleis
permanent op my vel te bespeur van weë die inhoud. Jy kan nie anders as om
meegesleur te raak met die woorde nie. Die pyn, hartseer, en verlange het ‘n
allesoorheersende drang gelaat om die proses klaar te maak. Die onderwerpe sluit
in armoede, verslawing, bejaardes, kinders- en vroue mishandeling in en sluit
af in triomf. Dit sal skok en jou laat ween en hopelik laat dink om deel te
word van die oplossing. Hierdie is ‘n moet bundel op jou boekrak. Een wat jy
met trots aan vriende en familie kan voorstel. Alta is ‘n besondere vrou en ons
twee het baie nou saamgewerk. Daarom kan ek met absolute oortuiging hierdie
boek en projek aanbeveel. Sy is nie net ‘n prater nie maar ‘n doener. Haar
lewens verhaal die kern van dit als.
Mariaan Taljaard
Spore van Genade is die inisiatief van die skrywer, Alta van
Zyl, wat die pad van dwelmverslawing en armoede eerstehands ervaar het. Haar
aanskouing van die vernietiging wat armoede en dwelmverslawing aanrig het haar
genoop om in 2005 die Hope Anointed Ministries bediening te stig wat die
verspreiding van die bundel moontlik maak.
Vyf en veertig skrywers en digters het saamgespan om
geboorte aan hierdie projek te skenk. Dit was soms ‘n opdraende pad maar met
gebed en volharding in geloof, kan ons met trots aankondig dat hierdie juweel
van 302 bladsye die lig gesien het. Die fondse wat verdien word uit hier
pragbundel sal aangewend word om nood te verlig onder ons volk wat gebuk gaan
onder armoede, werkloosheid, weeskinders, dwelmverslaafdes en verwaarloosde
bejaardes. Die skrywes in hierdie bundel handel ook oor genoemde aspekte.
Die nood daar buite is hoog! As ons saamstaan kan ons ‘n
verskil maak.
Liewe leser, baie dankie vir u ondersteuning. Mag die
skrywes in hierdie saamgestelde bundel u hart aangryp en u seën.
Mag jou lag weerklink
trane nie jou oë laat blink
Laat jou drome vlerke kry
laat liefde in jou hart gedy
Spreuke 3: 27
Moenie weier om te doen wat goed is, as dit in jou hand is
om dit te doen nie
Mariaan
Getuienis en die rede vir die boek. Dit is net een geval.
Anthony het in Witbank se onderdorp grootgeword. Hy was op
laerskool toe dwelmhandelaars hom in hulle kloue gekry het. Ek en sy familie
het vergeefs vir hom hulp gesoek. Selfs die hof kon nie help om hom te dwing om
vir rehab te gaan nie. Almal skryf 'n dwelmverslaafde af en glo dat hulle nie
gehelp wil word nie. Op 14 was hy geheel en al verslaaf aan heroien. Hy het by
se ma gebly en een aand verdwyn. Later het hy opgedaag, blou om sy mond en voor
sy ma se voete neergesak waar hy gesterf het weens n oordosis op die ouderdom
van 18. Hy was 'n pragtige jongman. Rehab sentrums is onmenslik duur en Anthony
se ma het reeds gesukkel om kop bo water te hou. Vandag bied sy ma slaapplek in
haar klein woonstelletjie vir dwelmverslaafde straatkinders. Dis al wat sy kan
doen. Niemand is bereid om hierdie kinders te help nie.